RIVERSDAL NUUS - Die Sewendedag-Adventiste het behoorlik die dorp besig gehou met 'n uitreikprogram deur Abundant Life van Dundee, KwaZulu-Natal vanaf Donderdag 24 Augustus tot Saterdag 26 Augustus.
"Abundant Life se missie is om Jesus en Sy liefde op die mees kreatiewe manier uit te beeld vir verskillende ouderdomsgroepe van 3-jariges tot inwoners van ouetehuise. Die doel is om almal te leer oor Jesus en sodoende die mens op te hef na die Verlosser," sê Nelis Theron, fasiliteerder.
Laerskool Panorama, Voorwaarts Primêr, Laerskool Volschenk en Gerrit du Plessis se leerders is vermaak met 'n poppekas wat vir elke skool 'n unieke boodskap uitgebeeld het.
Leerders se kwessies is aangespreek van boelies tot uitblinkers en swartskape, ook drank en dwelmmisbruik is aangespreek. Hulle is uitgedaag om 'n vriend van Jesus te word deur middel van gratis Bybelstudies.
Leerders is vermaak met ‘n poppekas wat vir elke skool ‘n unieke boodskap uitgebeeld het.
Volgens Loretta du Preez, koördineerder van die projek van Sewendedag-Adventiste, is sy oorweldig deur die 148 leerders wat belangstel om Bybelstudies te doen.
Abundant Life en Sewendedag-Adventiste se kinderbediening het ook besoek by Huis Jan Lange en Ou Meule afgelê.
Die twee ouetehuise is bedien met sang, waar 62 siek bejaardes met 'n geskenkie en gebed verras is. Daar is ook saam met die personeel van Ou Meule gebid. Jesus het gekom sodat elkeen die lewe in oorvloed kan geniet – Joh 10:10) en dis presies wat die jeug van Abundant Life met oorgawe doen!
Abundant Life se studente wat die poppekas aangebied het saam met hul fasiliteerder en Sewendedag Adventiste se koördineerder. Onder, van links: Bianka Fraser (Lulu), Calsea-Rose (klank). Middel: Megan Wass (juffrou), Melusi Masondo (Sipho). Agter: Anushka Harmse (spanfotograaf), Mieke Niemann (BamBam), Nelis Theron (fasiliteerder) en Loretta du Preez (koördineerder).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’