RIVERSDAL NUUS - Inwoners van Riversdal word die afgelope twee weke deur ’n toename in diefstalle en motorinbrake geteister.
Die Riversdal-polisie doen ’n ernstige beroep op die gemeenskap om waaksaam te wees en beter na hul eiendom om te sien.
Volgens sers. Christiaan Jansen van die Riversdal-polisie vind die meeste van die voorvalle plaas as gevolg van nalatigheid.
Hy maan inwoners om seker te maak dat voertuie te alle tye gesluit is en dat geen waardevolle items in motors agtergelaat word nie.
Waardevolle besittings in huise moet ook veilig toegesluit word.
Jansen beklemtoon verder dat huise behoorlik beveilig moet word.
Vensters en deure moet gesluit bly, en waardevolle items moenie deur vensters sigbaar wees nie.
Hekke moet ook te alle tye gesluit word om te voorkom dat boosdoeners maklik toegang tot eiendomme kry.
’n Verdere kommerwekkende aspek wat Jansen uitgelig het, is die aantal skoolgaande kinders wat laat in die aand in die strate rondloop.
Hy doen ’n dringende beroep op ouers om toe te sien dat hul kinders nie saans sonder toesig op straat is nie.
“Ouers het ’n verantwoordelikheid om na hul kinders om te sien en te verseker dat hulle nie laat in die nag op straat rondbeweeg nie,” het Jansen gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’