STILBAAI NUUS - Gedurende die naweek van 21 en 22 Februarie het die SAPD Stilbaai met ondersteuning van die SAPD Publieke Orde polisiëringseenheid en Hessequa Wetstoepassing suksesvolle klopjagte uitgevoer teen persone wat onwettig smokkel met drank in Melkhoutfontein.
Tydens die operasies is daar drie arrestasies vir onwettige handel in drank, een vir onwettige handel in dwelms, een vir die besit van dwelms, een vir oproerige gedrag en vyf arrestasies vir dronk op straat gemaak.
Twee van die onwettige handelaars in drank het alreeds skulderkenningsboetes betaal, terwyl die derde nog in aanhouding is.
Volgens adjudant-offisier Morné D'Emiljo, bevelvoerder van sigbare polisiëring by Stilbaai polisie, het die onwettige handel in drank en dwelms 'n verreikende impak op misdaad en die gepaardgaande misbruik van drank in die gemeenskap lei nie net tot die verval van morele waardes nie, maar ook tot die verdere verarming van die gemeenskap.
Hy sê verder dat dit 'n euwel is wat op alle vlakke van die samelewing beveg en uitgewis moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’