RIVERSDAL NUUS - Die lang arm van die gereg het weer toegeslaan gedurende die naweek van 12 en 13 Oktober toe die K9-honde eenheid van Mosselbaai en die Riversdal-polisie in 'n gesamelike optrede talle arrestasies uitgevoer en op dwelms en gevaarlik wapens beslag gelê het.
Die operasie is gelei deur sers. Jakobus Spangenberg van Langeberg K9 en die fokus van die optrede was om dwelms, gevaarlike wapens en dronkenskap op straat hok te slaan.
Spangenberg, wat deur sers. Garnet Damans en Lee Roy Valtyn, albei verbonde aan die plaaslike polisie, vergesel was, het meer as 14 arrestasies gemaak en gevaarlike wapens en dwelms - dagga en Mandrax - gekonfiskeer. Tien mense is ook vir dronkenskap op straat aangekeer.
Spangenberg het ná afloop van die operasie gesê dat daar 'n wanpersepsie in die gemeenskap bestaan dat die rook van dagga in die publiek wettig is. "Dis snert. 'n Nuwe wet, Dagga vir Persoonlike Gebruik, Wet 7 van 2004, is reeds sedert in Junie 2024 in werking wat 'n verbod op die rook van dagga in publiek afdwing."
Verdere uitdagings wat gedurende die optrede uitgelig was, is dronkenskap en minderjariges wat laatnag met skerp voorwerpe rondloop, wat pangas, groot messe en selfgemaakte assegaaie insluit.
Ouers word gemaan om hul kinders te waarsku om nie betrokke te raak by onwettige aktiwiteite nie, om die regte vriende te kies en om seker te maak dat kinders nie laatnag op straat is nie.
Spangenberg het bepleit dat 'n ou bestaande praktyk moet herleef - sien iets se iets - en dat die publiek die vertroue moet hê om onwettighede in die gemeenskap aan te meld sodat daar polisie intervensie kan wees. "Ons wil proaktiewe praktyke implimenteer, pleks van reaktief wees.”
Die Riversdal-stasiebevelvoerder, lt.kol Delicia Isaacs, het Damans, Spangenberg en Valtyd bedank vir hul onbaatsugtige diens aan die gemeenskap van Riversdal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’