HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie, onder leiding van die vispolbestuurder, kapt. Noxolo Rulwa en sers. Imorgene Hendricks het die afgelope paar weke heelwat bewusmakingsaksies in die streek van stapel gestuur.
Dit was in samewerking met verskeie rolspelers, waaronder die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), GPF-jeugtak, traumaberaders, Gemkor, munisipale wetstoepassers en plaaslike radiostasie.
Die groep het De Waalville en Slangrivier Primêre skole, Hoërskool Heidelberg en Kairos Senior Sekondêr besoek waar hulle die leerders oor die gevolge van misdaad en allerlei kwaadwillige aktiwiteite ingelig het.
Verskeie inwoners in klein groepe is ook by die inligtingsessies betrek.
Hendricks het saam met 'n jeuglid die plaaslike radiostasie besoek waar hulle luisteraars oor die verskeie dienste en projekte wat deurgaans aangebied word, ingelig het, asook oor geweld teen vroue en kinders en die gevare van dwelmmisbruik.
Hendricks, Rulwa en van die groeplede het ook 'n kerkdiens by Rise and Shine Ministries bygewoon, waar pastoor Marie February hulle met die Woord bedien het.
Hoërskool Heidelberg en Kairos Senior Sekondêr se leerders, en ook die persele is Dinsdag 10 Mei deur die polisie deursoek.
Daar is ook van 'n polisiehond gebruik gemaak om dwelms uit te snuffel.
Volgens Hendricks sal die besoeke aan skole op 'n gereelde basis geskied om die veiligheid van almal daar te verseker. Dit het ook ten doel om moontlike dwelmgebruik onder die leerders in die kiem te smoor.
Die groep het deel uitgemaak van die plaaslike polisiediens se reeks bewusmakingsaktiwiteite. Agter, van links: res. konst. Marius de Beer, Ben Dell (GPF), sers. Marthinus Geldenhuys en Alexa Mpiti (polisie vrouenetwerk). Voor: Waden Lakay en Petrus Rosseau (beide Hessequa-wetstoepassers), kapt. Noxolo Rulwa, ao. Reon Grundlingh en sers. Imorgene Hendricks.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'