RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike polisie, onder leiding van sers. Garnet Damans, het op Vrydag 16 Augustus 'n dwelmoperasie saam met reserviste en buurtwaglede van Riversdal van stapel gestuur.
Damans en sy span het op 17 gram tik, 163 gram dagga, een halwe en een kwart Mandrax-tablet sowel as R1 920 kontant beslag gelê.
'n 28-jarige verdagte is in hegtenis geneem op aanklagte van handeldryf in dwelms en het op Maandag 19 Augustus in die Riversdal-landdroshof verskyn.
Damans sê die polisie sal so vêr moontlik probeer om dwelms uit die samelewing te verwyder, want dit is 'n groot euwel en dra by tot ander misdade."
Hy het groot lof gehad vir die reserviste en buurtwagte vir hul puik diens en bereidwilligheid om misdaad te bekamp ten spyte van die feit dat hulle dié taak as vrywilligers sonder betaling aanpak.
Damans het ook vir ao. Phillip Thiart, sers. Christiaan Jansen en konst. Morné Hoffmann bedank vir hulle hulp met die operasie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’