STILBAAI NUUS - As deel van Kinderbeskermingsmaand het die plaaslike polisie 'n wonderlike geleentheid vir plaaskinders en hulle ouers op Kasselshoop aangebied. Die organiseerders van hierdie uitreik op Vrydag, 13 Mei was sersant Christiana Lewaks, sosiale misdaadkoördineerder en sersant Godwin Johnson.
Lewaks het ernstig met die ouers gepraat oor die gebrek aan dissipline by kinders.
"Hulle het nie meer 'n benul van gehoorsaamheid nie. Ouers blameer te maklik ander instansies wanneer hulle kinders die pad byster raak en vergeet dat hulle sosiale leefstyl 'n groot invloed op hul kinders het," het sy gesê. "Niks is egter te moeilik om te hanteer as ons ons uitdagings vir God gee nie."
Deon du Toit van die departement maatskaplike ontwikkeling op Riversdal het oor die impak van geslagsgebaseerde geweld op 'n gesin. "Geweldige emosionele skade word aan kinders aangerig wat toekyk as daar geweld in die huis is. Hulle openbaar probleemgedrag omdat hulle nie weet hoe om uiting aan hulle emosies te gee nie."
Hy het bygevoeg dat daar 'n wet is wat vroue en kinders beskerm. "Vroue moet die wet op gesinsgeweld gebruik en beskermingsbevele uitneem. Moenie stilbly daaroor nie."
Du Toit het hulle ook daarop gewys dat daar plekke van veiligheid vir ma's en hulle kinders is in geval van geweld en mishandeling op Albertinia (korttermyn) en Heidelberg (langtermyn).
Christel Cloete van die Stilbaai gemeenskappolisieforum het dit op die ouers se hart gedruk dat dit hulle plig is om hulle kinders veilig te hou, te versorg en op te voed. Sy het ook die kinders geleer hoe om die noodnommer, 10111 te onthou.
Gerda Papendorf, hoof van die plaaslike biblioteek het gesê dat boeke en lees 'n baie belangrike rol in kinders se lewe speel. Dit kan hulle leer om ander mense en hulle eie emosies beter te verstaan. Sy het ook boeke vir die leeshoekie geskenk wat op die plaas, Kasselshoop ingerig gaan word.
"As enige mens aan enige deel van jou lyfie vat en jy wil nie hê hulle moet dit doen nie, moet jy sê: 'Stop!' of 'Moenie!'''
So het Elna van der Merwe, vryskut-joernalis en organiseerder van die Stilbaai-boekefees voorgelees uit Kom ons praat waar babas vandaan kom. S het ook vir die kinders uit Die rooi rok voorgelees, "sodat ons bietjie kan wegkom van die moeilike goed waaroor hier vanoggend gepraat is."
Gershwin Jones, kaasmaker van Kasselshoop het sy storie van hoop met die kinders en hulle ouers gedeel. "My omstandighede het my inspireer. Ek wou nie die res van my lewe in armoede bly nie. Ek het gesien hoe mense om my deur drank en dwelms verwoes word en ek het vir myself gesê ek gaan nie so wees nie. Ek het my omstandighede gebruik as 'n 'stepping stone' om te kom waar ek vandag is."
Hierdie motivertingspreker, wat op sy dag een van Suid-Afrika se beste junior atlete was, het na sy matriek aan Hoërskool Langenhoven op Riversdal by Pentech-kollege in die Kaap gaan studeer. "Dis hier waar ek met verkeerde vriende deurmekaar geraak het. Ek het opgeskop en teruggekeer na Riversdal. Ek het nie kans gesien vir die lewe nie, want ek het gevoel ek is 'n mislukking.
"Later is ek as kaasmaker op Kasselshoop aangestel en daarmee saam het sekere voorwaardes en verantwoordelikhede gekom. Ek moes toe 'n besluit oor my lewe neem: Gaan ek in die week kaasmaker wees en naweke maar weer saam met vriende drank misbruik?
"Dis waar Stilbaai-polisie, sersant Lewaks, Christel Cloete en haar man, Albert wat elke dag met situasies werk waar hulle sien hoe families geskeur word, betrokke geraak het. Hulle, asook mnr Kassie Kasselman en sy oorlede vrou, Liesel het my lewe verander."
Jones is verlede jaar as beste kaasmaker in die land bekroon en dit het hy bereik omdat hy die regte keuse gemaak het. Hy is ook terug op die atletiekbaan.
Nog 'n spreker, Monrico Lupini het ná skool aan die Bybelskool studeer danksy geldelike skenkings en so het hy 'n pastoor geword. Vandag is hy bestuurder van Kasselshoop Kaasmakery nadat hy reg onder begin het as vloerveër.
Hy sê hy was 'n verlore jongman met geen toekomsvisie nie. Hy wou net klaarmaak met skool en dit was sy mentaliteit tot hy op 15 sy hart aan die Here gegee en Barry Fourie in sy lewe gekom het om vir hom rigting te gee. Hy het Lupini geleer om 'n man te wees.
Hy beland uiteindelik op Kasselshoop en hier begin sy lewe verander. "Ek het nie dadelik verander nie, maar mnr Kasselman het duidelik my potensiaal raakgesien toe ek by die deur ingestap het."
Na die besige oggend kon die kinders weglê aan warm worsbroodjies en bont kolwyntjies.
Die ouers en kinders bedank al die borge vir hul bydraes vir 'n suksesvolle dag.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'