Update
STILBAAI NUUS - Elke twee maande hou 'n groepie inwoners van Stilbaai hulle selfone styf teen die bors of sit so naby moontlik aan hulle landlyne, want enige oomblik kan die bestuurslede van die Stilbaai Afvalgilde begin skakel om bywoning van 'n uitsonderlike ete te bevestig. Dié slag was dit op Donderdag, 3 Junie.
Ja, dis die pens en pootjies, harsings en tong van 'n skaap, keurig deur die Feedem-kombuispersoneel van Huis Stilbaai voorberei wat hierdie opwinding veroorsaak.
Die afvalgilde is met 'n vergadering op 4 Oktober 2007 in die ontspanningsaal van Huis Stilbaai gestig en is deur 18 mense bygewoon, waarvan agt steeds lede is. Dit het alles met 'n idee van Frik van der Merwe begin. Hy het besef dat daar baie sluimerende talent op Stilbaai was en dit sou goed wees om sulke mense in 'n sosiale omgewing byeen te bring en wat beter as 'n bord skaapafval.
Frik, Willem de Klerk en Theo Boshoff, destydse bestuurder van Huis Stilbaai het bymekaargekom en besluit dat Huis Stilbaai die ideale plek sal wees om die etes aan te bied. Kerneels Swanepoel, die huidige voorsitter was in die tyd op die beheerraad. Aan die begin was daar ook gassprekers, maar die gebruik het later verval omdat die hoof aantrekkingskrag tog die skaapafval is.
Die aanvanklike ledetal van 18 het later gegroei na 25 en toe 35, 40, 50 en 60. Toe kom Covid-19 en Huis Stilbaai moes noodgedwonge die ontspanningsaal sluit. Skielik is die gilde sonder heenkome, maar gelukkig bied die gholfklub hulle geriewe aan. Die ete word steeds by Huis Stilbaai voorberei en bestuurslede soos Willie Delport sorg dan dat dit gholfklub toe gaan.
Skielik was daar meer plek en oornag groei die ledetal toe tot 80. Tydens Covid-19 kan die klubhuis by die gholfklub slegs 75 mense toelaat en dit het die bestuur dus genoop om die ledetal vir die afsienbare toekoms op 80 te hou.
Die gilde gebruik die aansluitingsfooi, jaarlikse lede- en etegeld om die kostes te dek en skenk dan jaarliks die meeste van die oortollige geld aan Huis Stilbaai, aangesien hulle kombuis gebruik word vir die voorbereiding van die voedsel.
Dit is mense soos die Stilbaai Afvalgilde wat seker maak dat ou gebruike en kontreikos nie uitsterf nie.
Vorige artikel: Stilbaai se smulpape
Die monde water want dis etenstyd.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'