RIVERSDAL NUUS - Geskiedenis word op Vrydag 27 Maart in Riversdal gemaak wanneer die personeel van People’s Dispensary for Sick Animals (PDSA) George vir die eerste keer hul dienste in die dorp aanbied.
Die organisasie sal met hul mobiele eenheid na Riversdal reis om katte en honde teen ’n minimale fooi in te ent.
Die inentingsdag vind plaas by die Riversdal-rugbyklub vanaf 09:00 tot 14:00.
Belangstellendes word versoek om vooraf hul name deur te gee sodat die organiseerders ’n aanduiding kan kry van hoeveel diere verwag kan word.
Volgens Sandra Lotz van die Community Animal Rescue Society (Cars) is die veldtog veral belangrik in die lig van die voorkoming van katgriep en Parvo-siekte onder honde.
Baie honde, klein en groot, sterf jaarliks aan Parvo omdat hulle nie betyds ingeënt word nie.
Die doel van die inisiatief is om die plaaslike gemeenskap gesond te hou en dit sluit troeteldiere soos honde en katte, sowel as ander diere, in.
Vir meer inligting kontak Sandra Lotz by 082 962 1831.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’