RIVERSDAL NUUS - Riversdal-pastoor, Christo Crafford, het Maandag 30 Junie in die hof tydens 'n pleit- en vonnisooreenkoms skuldig gepleit op aanklagte van seksuele aanranding en seksuele aanvoring van 'n minderjarige.
Dié saak het oor 'n tydperk van meer as vier jaar in die hof voortgesleep. Die klaagster, nou 20 jaar oud, was tydens die misdrywe 16 jaar oud.
Vonnis en voorwaardes
Vir seksuele aanranding is Crafford gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar, met die voorwaarde dat hy nie weer in stryd met die wet optree nie.
Boonop is hy tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis en moet hy R50 000 aan die klaagster betaal.
Op die klag van seksuele aanvoring (sexual grooming) is hy 'n verdere 18 maande tronk-straf, opgeskort vir drie jaar, opgelê.
Verdere voorwaardes sluit in dat Crafford daagliks van 18:00 tot 06:00 by sy woning moet wees, sowel as die voltooiing van 16 ure gemeenskapsdiens elke maand.
Hy mag geen kontak met kinders onder 18 jaar hê nie, mag nie 'n vuurwapen besit nie, en sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas word.
Hy mag ook nie die munisipale grense van Riversdal sonder spesiale toestemming van die korrektiewe toesighouer verlaat nie.
Ingestem tot die ooreenkoms
Die klaagster se ma het aan Suid-Kaap Forum verduidelik waarom hulle ingestem het tot die ooreenkoms:
"Hierdie hofsaak sloer al vir vier jaar.
My kind mag volgens wet nie sielkundige behandeling ontvang nie omdat dit die saak kon beïnvloed.
Ek moes as moeder die moeilike besluit neem om die proses af te sluit, sodat sy uiteindelik berading kan ontvang en as gesin ons die pad na herstel kan begin.
Nou kan sy behandeling ontvang."
Gemeenskap teleurgestel
Die Riversdal-gemeenskap het intussen hul teleurstelling en ontsteltenis uitgespreek oor die vonnis, met verskeie inwoners wat voel dat die vonnis nie die erns van die misdrywe weerspieël nie.
Die saak het weer aandag gevestig op die behoefte aan regverdige vonnisse en beskerming van minderjariges teen gesagsfigure in gemeenskappe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’