HEIDELBERG NUUS - 'n Middeljarige man van hier het tragies gesterf nadat hy deur 'n jongman met 'n skerp voorwerp aangerand is.
Die 51-jarige George Hill van Jo Slovo Park is na bewering met 'n onbekende skerp voorwerp in die arm, net bokant die gewrig, gesteek.
Hy het volgens sy erg getraumatiseerde vrou, Katy Hill, voor 'n inwoner se huis op die sypaadjie gesterf nadat daar vir meer as drie ure op 'n ambulans gewag is.
Volgens sersant Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, het die polisie ongeveer 01:45 op Kersoggend by die toneel in Nicholssingel aangekom en die slagoffer daar aangetref.
Hy was nog lewend, maar het as gevolg van bloedverlies op die toneel gesterf.
Hendricks het verder genoem dat die oorledene volgens getuies met 'n 20-jarige man in 'n argument betrokke was toe die jongman die oorledene in die linkerarm net bokant sy gewrig getref het.
Die beskuldigde is in hegtenis geneem en 'n saak van moord word teen hom ondersoek.
Hill laat benewens sy vrou ook twee dogters, 'n seun en twee kleinkinders agter.
Inwoners het in hulle hordes opgedaag , terwyl daar gewag is vir die forensiese personeel om die liggaam te verwyder.