Heuning verbouing word al hoe meer beoefen deur plaaslike grondeienaars en is die bewaring van bye self baie noodsaaklik. Met navorsing hieroor is gevind dat plaaslike boere reeds baat by die tipe boerdery deur 'n unieke projek van die 'Gourits Cluster Biosfeer Reservaat' (GCBR).
Byeboerdery
Riaan Bosch, 'n byekenner hoop om met sy kennis en ondervinding opkomende byeboere toe te rus om dié boerdery uit die staanspoor op die korrekte manier aan te pak. Bosch het in 2008 letterlik die goud in die heuningpot raakgesien om gemeenskapsmense in landelike gebiede op te lei in byeboerdery. Tans is hy betrokke by die opleiding van byeboere in die bedryf.
Hy is verantwoordelik vir die tegniese opleiding en mentorskap, maar is 'n byebestuurprogram net so noodsaaklik om sukses te verseker. "My betrokkendhied by die GCBR projek is die implementering en mentorskap van 11 byeboere wat as volg opgedeel is: Herbertsdale/Albertinia (4), Swellendam (3), Knysna (3) en een deelnemer in Plettenbergbaai". Die fokus is hoofsaaklik Fynbos heuning verbouing van ongeveer 15kg per jaar, per korf, verduidelik Bosch.
"Die projek bestaan uit mense wat gekeur is op grond van hul ondervinding en passie vir byeboerdery en het ek baie klem gelê daarop dat die mense bewys moet kan lewer dat hulle toestemming het van die betrokke grondeienaars om korwe daar aan te hou. Meeste van die mense wat ek oplei en bystaan is arbeiders op die betrokke plase".
Passie vir bedryf
Bosch het 'n passie vir die bedryf en daarom is sy betrokkenheid in die bedryf meer intensief as die GCBR-projek. "My passie lê daarin om grondeienaars te help om bye as natuurlike hulpbron te ontgin op hul grond aangesien min grondeienaars bewus is van die potensiële inkomste uit bye". Hy verduidelik dat daar is een inkomste uit bye en dan is daar byvoorbeeld inkomste uit die verhuring van bye vir bestuiwing.
"Boere begin al hoe meer bewus raak van die enorme rol wat bye speel in die bestuiwing van gewasse. Selfs Canola boere wat byeboere toegang tot hul Canola lande gee, ervaar beter opbrengste in oes". Heelwat grondeienaar sit met dele van hul plase wat nie vir normale boerdery praktyke geskik is nie, maar uitstekende bye potensiaal het, aldus Bosch. "Hier dink 'n mens aan die Duineveld en herbergsame dele. Aangesien bye 2 km rondom hul neste/korwe werk, kan hulle dus dele bereik wat nie begaanbaar is nie. Dus, kan met 'n akkurate korf plasing, optimale benutting verkry word en so 'n inkomste verkry word uit grond wat 'onwerkbaar' is".
Volgens Bosch is die groot probleem egter dat grondeienaars nie weet hoe om met bye te begin boer nie, of waar om die regte toerusting te bekom, asook waarom hy graag grondeienaars van advies voorsien. "Min mense weet dat die wêreld se uniekste by, naamlik die Kaapse heuningby (Capensis) die by spesie is wat ons hier mee werk en dat die metode van bye bestuur heelwat verskil van die res van die wêreld se bye".
Goud in die Heuningpot
Indien byeboerdery reg aangepak word kan dit as 't ware as 'goud in die heuningpot' gesien word. Bosch verduidelik dat heuning pryse tans in die omgewing van R30/kg groothandel verkoop word. "Met ander woorde, dit is wat die byeboer kry vir sy heuning as hy dit in 20 liters emmers verkoop. Teen 'n gemiddelde opbrengs van 15kg/jaar op fynbos gee dit die boer dus R450 per jaar as hy slegs heuning boer. As hy bestuiwing bysit, kan jy minimum R1000 per jaar, per korf verdien".
Volgende keer as jy heuning koop, onthou koop plaaslik, koop eko-vriendelik, koop ratel-vriendelike heuning en probeer gerus Fynbos-heuning. Dit is waarlik die stroop van die gode, uit die hart van die Kaapse Blommeryk- Hessequa.
_534061878.jpg)
'n Byekorf tussen Fynbos. Foto's: Riaan Bosch.