STILBAAI NUUS - Die krag wat af is, die hawe wat in donkerte gehul is en vissermanne wat sonder ys sit - dit is die harde werklikheid wat die afgelope week by Stilbaai-hawe afgespeel het.
Wat begin het as 'n administra-tiewe dispuut oor agterstallige skuld, het vinnig ontaard in 'n krisis wat die plaaslike visbedryf, koswaens en werksgeleenthede direk raak.
Terwyl die nasionale departement van openbare werke as eienaar van die infrastruktuur verantwoordelikheid dra, is dit die mense op die grond - die kommersiële vissermanne, seevisserye en klein ondernemers - wat die onmiddellike gevolge dra.
In 'n hawe waar veiligheid en funksio-naliteit reeds onder druk is, het die afska-keling van elektrisiteit nuwe vrae laat ontstaan oor aanspreeklikheid, bestuur en die toekoms van een van Stilbaai se belangrikste ekonomiese spilpunte.
Vir jare is die verval van die hawe, meer spesifiek die hawemuur, al 'n bron van kommer by besoekers en gebruikers van die hawe.
In November 2024 het die vorige minister van seevisserye, bosbou en omgewingsake, Dion George, Stilbaai besoek om hom te vergewis van die toestand van die hawe, maar hy het dit ook duidelik gemaak dat hy slegs aanbevelings aan die minister van openbare werke kan maak.
Dié betrokke minister was nog nooit in sy amptelike hoedanigheid by die Stilbaai-hawe nie.
Daar is gereeld berigte in die nasionale media van die oneffektiwiteit van die departement van openbare werke en dit moes dus nie as 'n verrassing gekom het toe Hessequa-munisipaliteit noodgedwonge Maandag 16 Februarie die hawe se krag weens herhaalde wanbetaling moes afskakel nie.
Hessequa-munisipaliteit is nie by magte om aan eksterne partye, soos Suid-Kaap Forum, bekend te maak watter kliënte geaffekteer word wanneer toevoer afgesny word nie.
Die munisipaliteit het egter bevestig dat elektrisiteitstoevoer by verskeie persele gedurende dié betrokke week weens agterstallige skuld afgeskakel is.
Volgens die munisipaliteit is dié optrede geneem nadat talle kennisgewings uitgereik is waarin rekeninghouers versoek is om hul uitstaande bedrae te vereffen óf alternatiewelik, geskikte reëlings te tref in ooreenstemming met hul kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid.
Ongelukkig het so 'n besluit verreikende gevolge, want die skuldige in hierdie geval word nie direk geraak deur hierdie optrede nie, maar die gebruikers van krag in die hawe wel.
Dit is seevisserye, die koswaentjies en die kommersiële vissermanne. Laasgenoemde moet ys hê om hulle vis vars te hou.
Die ligtoring op die hawemuur werk gelukkig met sonkrag en is dus nie geraak nie, maar die hawe was pikdonker as die son sak.
Vars in die geheue is die dwelmsmok-kelaars wat verlede jaar R250 miljoen se kokaïen deur die hawe die land wou inbring en donkerte is 'n skelm se speelgrond.
In die lig hiervan het Hessequa-munisipaliteit die elektrisiteitstoevoer na die hawe Maandag 23 Februarie weer aangeskakel, maar klaarblyklik met spesifieke voorwaardes.
Nog geen formele terugvoer is vanaf die departement van openbare werke ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’