RIVERSDAL NUUS - Die hart van liefdadigheid klop sterk in Robertsonstraat 6, waar Ons Winkel van Solidariteit Helpende Hand op Vrydag 4 Julie weer sy deure vir die publiek heropen het.
Die nuwe winkel in Robertsonstraat is baie ruim en het genoeg lig in vergelyking met die ou winkel.
“Ons Winkels is nie sommer net tweedehandse winkels nie - dit is landwye liefdadigheidsinisiatiewe wat reeds nagenoeg 130 winkels sterk is.
Hierdie winkels bied ’n platform waar die publiek tweedehandse items soos meubels, klere, kombuisware en linne kan skenk, wat dan teen bekostigbare pryse aan die gemeenskap verkoop word.
Dit skep nie net volhoubare werksgeleenthede nie, maar dra ook direk by tot maatskaplike ontwikkeling,” sê Anna-Marie Hughes.
Volgens Solidariteit Helpende Hand is die doel van elke Ons Winkel om landwyd ’n netwerk van sterk, volhoubare winkels te vestig wat elkeen hul gemeenskappe dien.
Die wins uit verkope gaan aan maatskaplike hulp, studiebeurse vir verdienstelike studente en ander ontwikkelingsprojekte.
Die winkel nooi inwoners van Riversdal en omliggende areas om betrokke te raak - hetsy deur oortollige items te skenk of deur inkopies te gaan doen.
“As jou kas uit sy nate bars of jy meubels het wat plek opneem - bring dit vir ’n goeie doel. Wat vir jou niks werd is nie, kan vir iemand anders ’n nuwe begin beteken,” sê Hughes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’