RIVERSDAL NUUS - Die normaal rustige dorp het Saterdagoggend, 12 Oktober, nuwe lewe gekry met die jaarlikse Oktoberfees wat die NG Moedergemeente by Laerskool Volschenk (Vollies) aangebied het.
Die fees is voorafgegaan met Vollies se jaarlikse colour run met onderwysers en beamptes wat die atlete met veelkleurige verf bespuit het voordat hulle aan drie verskillende wedlope oor 2,5 km, 5 km en 10 km deelgeneem het.
Fietsryers kon aan die 10- of 20 km-wedrenne deelgeneem het.
Daarna het die Oktoberfees sy deure oopgegooi met allerhande vermaak vir die kinders wat veral die springkastele goed beset het.
Allerhande produkte is ook te koop aangebied, waaronder vars vleis, tuisgebak, heerlike nagereg en vars koffie.
Na die prysuitdeling vir die atlete was daar ook 'n gelukstrekking.
Boeresport is ook aangebied en vir motorliefhebbers is 'n klomp veteraanmotors uitgestal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’