STILBAAI NUUS - 'n Rots, wat heel waarskynlik 130 000 jaar gelede gevorm is, is op Donderdag 29 September anderkant Geelkrans met behulp van 'n helikopter opgehys en by die lughawe op 'n bakkie gelaai vir sy laaste rit na die Blombos-museum by Palinggat in Stilbaai.
Vir die afgelope twee jaar vandat die rots ontdek is, het twee gerekende argeoloë, drs. Jan de Vynck en Charles Helm, dit deeglik bestudeer en ontleed. Dr. Helm sê volgens sy mening is hierdie rots gevorm in die tydperk 90 000 tot 140 000 jaar gelede en moontlik waarskynlik 130 000 jaar gelede.
Die terrein waar die rots gevind is, is ryk aan soortgelyke en ander artefakte, maar is op privaatgrond en bitter moeilik bereikbaar.
Nêrens in die wêreld is so 'n spesifieke rots al gevind nie en dus moes die twee argeoloë 'n naam daarvoor vind.
Hulle het besluit op ammogliewe (in engels ammoglyph). Ammo is die Griekse woord vir sand.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'