RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se 560 kg A-span het weer geskiedenis gemaak toe hulle van 4 tot 7 September tydens die Wêreldtoutrek-kampioenskappe by Nottingham Universiteit in Engeland vir die vierde agtereenvol-gende jaar as wêreldkampioene gekroon is.
Onder leiding van afrigter Piet Lourens het die span met 'n kragvertoning deurgedruk en al hul teenstanders oortuigend geklop.
In die eindstryd het die Oakdale Bulle Chinese Taipei 2 - 0 geklop en só hul wêreldleierskap in die 560 kg-afdeling bevestig.
In 'n onderhoud vanuit Engeland het Lourens sy trots uitgespreek: "Die atlete het ongelooflik hard gewerk om dié prestasie te behaal.
Die wenresep is eenvoudig: oefen, oefen, oefen."
Hy het daarop gewys dat die nasionale span uitsluitlik uit Oakdale-leerders bestaan, terwyl ander lande hul spanne landswyd saamstel.
"Dit help natuurlik as jy die sterkste atlete bymekaar kry, maar ons voordeel is dat ons daagliks saam kan oefen," verduidelik hy.
Volgens Lourens beteken hierdie oorwinning baie vir die bevordering van toutrek in Suid-Afrika.
"Die naam 'toutrek' word nou meer genoem en hopelik neem die regering ook kennis.
Vir Hoër Landbouskool Oakdale is dit ongelooflik om 'n wêreldkampioenspan aan boord te hê."
Hy het die enorme steun van Riversdal en Suid-Afrika geloof: "Wanneer ouers, grootouers, familie en vriende agter jou staan, kry die span net nóg meer energie."
Lourens het verder almal bedank wat deur bydraes en organisering die toer moontlik gemaak het.
Die manne wat die tou oor die merker getrek het is Nico Geldenhuys, Jaundré Aucamp, Lourens Brand, Christo Gouws, Simeon Botha, Kobus du Plessis, Wynand Malherbe, Richard Pretorius en Danielle Kriel.
Die Oakdale Bulle keer Vrydag na Suid-Afrika terug, met hul volgende doelwit reeds in sig: om weer te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskap in 2026.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’