RIVERSDAL NUUS - 'n Sombere atmosfeer het Dinsdag 22 Julie oor Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal gehang toe die skool vir die derde kwartaal heropen het.
Die hele skoolgemeenskap is in rou ná die tragiese dood van gr. 10-leerder Ruben Bezuidenhout (16) van George, wat op Saterdag 19 Julie in 'n motorongeluk buite Bloemfontein oorlede is.
In 'n onderhoud met Suid-Kaap Forum se susterskoerant, George Herald, het Ruben se pa, Riaan Bezuidenhout, met emosie hul laaste gesprek herroep.
"Ek het hom by die George-lughawe afgelaai vir sy vakansie in Bloemfontein.
Ons het só gelag dat die trane geloop het - ons moes langs die pad stilhou.
En net voor ek ry, vra ek vir hom: 'Seun, is jou saak reg met die Here?' Hy het ja gesê, en toe vra hy my: 'Is jóú saak reg met die Here, Pappa?'"
Ruben het twee jaar gelede sy lewe vir die Here gegee op 'n bank in hul huis in die teenwoordigheid van sy pa.
"Hy was 'n kind van God, 'n natuurlike leier met 'n sterk persoonlikheid. Hy het die mooiste glimlag gehad en het soveel mense se lewens aangeraak," sê Riaan.
Die gesin, wat 11 jaar gelede van die Vrystaat na George verhuis het, woon in Kraaibosch. Ruben en sy jonger boetie, Wian (14), is oudleerders van Laerskool Outeniqua. Wian is tans 'n gr. 9-leerder by Oakdale.
Hoër Landbouskool Oakdale se skoolhoof, Willem du Buisson, het aan Suid-Kaap Forum gesê: "Ruben se skielike dood het die skoolgemeenskap diep getref.
Hy was een van ons toptwintig akademiese presteerders en 'n ywerige sportman met 'n passie vir rugby.
Ons harte is gebreek. Ons betuig innige meegevoel aan sy ouers, familie en vriende."
In die nasleep van sy dood het honderde boodskappe van meegevoel van oor die land ingestroom.
Een van die mees aangrypendste huldeblyke kom van Dené du Plooy, wat Ruben onthou van Oakdale se ope dag in 2024: "Ag nee, Ruben.
Jou vriendelike gesig en hartlike verwelkoming sal ek nooit vergeet nie.
Jy het sulke mooi maniere gehad en altyd met respek gegroet.
Jy het 'n blywende indruk op ons gemaak. Ons harte is seer."
Danie van Rensburg het geskryf: "Ruben/Klippies, ek het jou by die tennisbane ontmoet. Jou goedhartigheid sal altyd by my bly. Rus in vrede.
Sterkte aan Riaan, Benita en almal betrokke."
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het Maandagaand hulde gebring:
"Ons het met groot hartseer verneem van Ruben se afsterwe. Namens die Hessequa-munisipaliteit en gemeenskap betuig ek ons innige meegevoel aan Riaan, Benita, Wian en hul geliefdes.
Mag julle troos vind in mekaar en in die wete dat God by julle is."
Leerders by Hoër Landbouskool Oakdale het ook Dinsdag hulde gebring aan Klippies, soos hy daar bekend was.
Huldeblyk aan Ruben 'Klippies' Bezuidenhout
Elke leerder het 'n klippie ontvang wat hul in 'n glasvaas kon plaas, verteenwoordigend van gebede aan Ruben se familie.
'n Kersie is aangesteek wat leerders kon pak op die naam Klippies. Ons harte weeg swaar, ons skoolvlag hang halfmas … Ruben ons sal jou as ligdraer altyd onthou!
Ruben se roudiens word vandag, Vrydag 25 Julie, om 10:00 by die NG Kerk Bergsig in George gehou.
Hy laat sy ouers en broer agter.
Die ongeluk
Die ongeluk het Saterdag 19 Julie omstreeks 16:30 op 'n plaas op Tierpoort, sowat 35 km vanaf Bloemfontein, plaasgevind.
Die Isuzu-bakkie waarin Ruben en 'n vriend gery het, het glo verskeie kere gerol nadat die bestuurder beheer verloor het.
Ruben is op die toneel dood verklaar.
Sy vriend is met beserings na die hospitaal geneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’