Update
RIVERSDAL NUUS - Dié dorp se eie Paul de Villiers het verlede naweek sy Springboktrui aangetrek toe hy sy debuut vir die Springbokspan gemaak het in die eerste toets teen Engeland in hierdie internasionale seisoen.
Vir De Villiers, 'n voormalige hoofseun van Hoër Landbouskool Oakdale, voormalige kaptein van die eerste rugbyspan en oudleerder en rugbyspeler van Laerskool Outeniqua, was dit die verwesenliking van 'n droom om sy eerste toets vir die Springbokke te speel.
Die Bokke, met De Villiers in die span, het op Saterdag 4 Julie 'n sterk vertoning gelewer en Engeland met 45 - 21 geklop.
In 'n onderhoud met SuperSport Rugby het De Villiers gesê dit was ongelooflik spesiaal om sy eerste Springboktoets te speel, met die spanbus na Ellispark te ry, al die ondersteuners in die stadion te sien en uiteindelik die wedstryd te wen.
Hy het gesê hy het eers 'n dag of twee voor die wedstryd gehoor dat hy in die span opgeneem is. Hy sê die wedstryd is teen 'n baie hoë tempo gespeel.
Volgens De Villiers is daar nog baie wat hy kan leer, maar hy sien daarna uit om verder as speler te ontwikkel en te verbeter. Oakdale se hoof van sport en De Villiers se afrigter in 2020 en 2021, Malan du Plessis, het gesê hy is besonders trots op hom.
"Iemand het vir my 'n boodskap gestuur om te sê hy is in die beginspan. Dit was 'n groot verrassing. Toe ek hom op televisie die volkslied sien sing, het die trane in my oë gekom, want ek weet hoe hard hy hiervoor gewerk het," het Du Plessis gesê.
"Hy het ongelooflik goed gevaar vir iemand wat sy eerste toets speel."
Oakdale se skoolhoof, Willem du Buisson, het gesê hy is uiters trots op De Villiers en het hom as 'n baie talentvolle rugbyspeler beskryf. Hy was baie bly dat De Villiers die geleentheid gekry het om dié wedstryd te speel.
Volgens Du Buisson is De Villiers se sukses 'n bron van motivering vir ander jong rugbyspelers by die skool.
Hy het gesê De Villiers is die vierde oudleerder van Oakdale wat die Springbokspan gehaal het.
Vorige artikels:
- Huge expectations for De Villiers' Springbok debut
- Oud-Oakdaler Paul de Villiers bereik Springbokhoogtes
- Oud-Oakdalers haal die Junior Springbokspan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’