RIVERSDAL NUUS - Die voormalige hoofseun van Hoër Landbouskool Oakdale en oud-kaptein van die eerste rugbyspan, Paul de Villiers, het nog 'n besondere mylpaal in sy rugbyloopbaan bereik met sy insluiting in die Springbokspan.
De Villiers se pad na die hoogste vlak van Suid-Afrikaanse rugby is gebou op jare van harde werk, dissipline en leierskap.
As hoofseun van Oakdale in 2021, tydens die uitdagende Covid-19-jaar, het hy reeds gewys dat hy oor uitsonderlike karaktereienskappe beskik.
Hoewel Oakdale se eerste rugbyspan daardie jaar slegs vyf wedstryde kon speel, was die span onder sy kapteinskap onoorwonne.
Volgens Oakdale se hoof van sport en Paul se afrigter in 2021 en 2022, Malan du Plessis, was dit reeds vroeg duidelik dat De Villiers oor besondere leierseienskappe beskik.
"Paul se vasberadenheid om te presteer was uitstaande.
Sy nederigheid, lojaliteit en respek vir sy spanmaats en afrigters is ongelooflik. Hy is 'n ware ambassadeur vir Oakdale," sê Du Plessis.
Ná sy skoolloopbaan het De Villiers verder naam op die nasionale verhoog gemaak.
Hy het Suid-Afrika se o. 20-span in 2022 en 2023 verteenwoordig en is in 2023 as kaptein van die Junior Springbokke aangewys - nog 'n bewys van die vertroue wat afrigters en spanmaats in sy leierskap stel.
Sy prestasies strek egter verder as die rugbyveld.
De Villiers het ses onderskeidings in matriek behaal en het vanjaar sy BCom-graad in beleggingsbestuur voltooi.
Du Plessis beskryf hom as 'n jongman wat daarin geslaag het om 'n uitstekende balans tussen sport, akademie en familie te handhaaf.
"Hy is gedissiplineerd en verstaan die belangrikheid van prioriteite.
Sy vermoë om akademie, rugby en sy familielewe suksesvol te balanseer, spreek boekdele oor sy karakter," sê hy.
Vir Oakdale, Riversdal en die breër Suid-Kaap is De Villiers se opgang na die Springbokspan 'n bron van trots.
Sy verhaal dien as inspirasie vir jong sportlui dat talent, gekombineer met harde werk, nederigheid en deursettingsvermoë, tot die hoogste vlak van prestasie kan lei.
Paul de Villiers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’