Update
RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se leerders het Saterdag 17 Januarie ’n baie spesiale besoeker verwelkom toe Andru van Zyl, voormalige hoofseun van Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), by die skool aangedoen het as deel van sy, Polokwane to Cape Town - My Ride of Hope for the CHOC Cows-fietstoer.
Van Zyl het vanaf Polokwane vertrek en is tans besig met ’n uitmergelende fietsrit Kaapstad toe om fondse in te samel vir CHOC, die Childhood Cancer Foundation of South Africa.
Wat begin het as ’n mikpunt van R20 000, het teen sy aankoms in Riversdal reeds die merkwaardige bedrag van meer as R500 000 oorskry.
Die inisiatief is geïnspireer deur die onlangse kankerdiagnose van ’n seun van Andru se ou skool, wat hom diep geraak het en hom bewus gemaak het van die uitdagings wat kinders met kanker en hul gesinne daagliks trotseer.
Langs die roete het gemeenskappe, boere en dorpe hul harte oopgemaak met verblyf, kos en ondersteuning.
Van Zyl beoog om Kaapstad teen 22 Januarie te bereik en hoop om met elke kilometer hoop vir kinders met kanker te bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’