RIVERSDAL NUUS - Straight Arrow Archery, 'n familie-georiënteerde boogklub wat reeds vier jaar net buite Stilbaai gevestig is, het onlangs uitgebrei met die opening van 'n splinternuwe binnenshuise baan op die Riversdal-skouterrein.
Die klub spesialiseer in 3D- en veldboogskiet, maar bied ook 'n verskeidenheid ander aktiwiteite soos mes- en bylgooi, kettie- en windbuksskiet.
Dit maak van Straight Arrow Archery 'n gewilde keuse vir gesinssport.
Met die nuwe binnenshuise baan kan boogskietentoesiaste nou 'n heel ander dissipline ervaar.
Skuts skiet op teikens wat 18 meter van hulle af geplaas is. 'n Kompetisie behels twee stelle van 30 pyle elk, met 'n 10 minute breuk tussenin.
Die maksimum telling wat 'n deelnemer kan behaal, is 300 punte.
"Ons doel is om meer mense aan die sport bekend te stel en soveel moontlik belangstellendes te akkommodeer," sê klubbestuurder, Chantel Botha.
"Al die nodige toerusting word verskaf, en beginners is meer as welkom."
Vir meer inligting besoek Straight Arrow Archery se Facebook-blad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’