Update
RIVERSDAL NUUS - 'n 16-jarige skooldogter van Gerrit du Plessis Senior Sekondêr het Dinsdag 9 Mei 'n nagmerrie ondervinding beleef toe haar 20-jarige voormalige kêrel haar uit die skoolbus gepluk en haar in die bosse daar naby ontvoer het.
Die voorval het omstreeks 07:40 by die busstop by Gerrit du Plessis gebeur.
Die skoolhoof, Pat Witbooi, het dadelik vir ao. Hans Busch, sektorbestuurder by die Riversdal-polisie, gebel waarna die polisie en lede van die Hessequa-brandweer onmiddellik 'n soektog in die bosse van stapel gestuur het.
Rugbyspelers van die skool se eerste span asook lede van TFR Sekuriteit het na die skooldogter help soek. Die leerders het die meisie eerste gevind.
Sy was ongedeerd, maar sigbaar in skok.
Die polisie het die jongman 'n hele ent van die toneel af vasgetrek met die skooldogter se selfoon in sy besit. Die dogter is glo ook geklap.
Hy is deur ao. Busch gearresteer en 'n saak van ontvoering, aanranding en roof is teen hom aanhangig gemaak.
Die verdagte is nog in aanhouding, maar sou gister, Donderdag 11 Mei, in die plaaslike landdroshof voorgekom het.
Vorige artikel: Noue ontkoming vir skooldogter
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’