Video
HEIDELBERG NUUS - Van Holland tot Heidelberg, met ’n musikale draai deur verskeie wêrelddele, het feesgangers vanoggend by Proeviand behoorlik meegesleur toe die NorthSouth Duo hul eiesoortige kontemporêre klanke laat hoor het.
Kaat Vanhaverbeke op akkordeon en Josie McClure op saksofoon het om 11:30 die verhoog betree vir Van Holland tot Heidelberg, een van vandag se klassieke aanbiedings tydens die Hessequa Harmoniefees.
Die duo het feesgangers bekoor met ’n lewendige en kultureel diverse program waarin Roemeense, Spaanse, Hollandse, Poolse, Balkan- en Suid-Afrikaanse musiek saamgevleg is.
Daar is egter nog heelwat waarna feesgangers vandag kan uitsien.
Om 15:00 bied Bettie Kemp TaMiem van Swellendam by die Congregational Kerkie aan.
Dié woordkunsproduksie neem die gehoor op ’n reis deur die lewe van een van Suid-Afrika se merkwaardige vroue, MER.
Die gratis dagmark en basaar begin om 16:00 by die NG Kerksaal, waarna die ATKV Galakonsert om 18:00 in die NG Kerk aangebied word.
Minette du Toit Pearce, Paulina Malefane, Corneil Muller en Elna van der Merwe tree saam met die Windworx Simfoniese Blaasorkes en ’n feeskoor op.
Die orkes staan onder leiding van Pamela Kierman en Riaan van Wyk, met Betsie Ryke en Ravic Fielies aan die stuur van die feeskoor.
Vanaf 19:15 kan feesgangers die dag verder by die gratis nagmark en basaar by die NG Kerksaal geniet.
Video: Ben Snyman
Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’