ALBERTINIA NUUS - Waarnemende landdros Maseti het op Woensdag 23 Augustus nog 'n verdoemende uitspraak in die plaaslike landdroshof gelewer.
Francois Gelembe (36) is vir handeldryf in tik en Mandrax skuldig bevind en is 14 jaar gevangenisstraf opgelê waarvan vier jaar opgeskort is - dus 'n effektiewe straf van 10 jaar.
Volgens die ondersoekbeampte, sers. JM Spangenberg van die K9-eenheid Langeberg het hierdie handelaar vorige veroordelings wat besit van dwelms en ook aanrandingsake insluit.
"Gelembe is geïdentifiseer nadat verskeie klagtes deur die gemeenskap ingestroom het rondom sy beweerde aktiwiteite. 'n Bedekte ondersoek is begin om die egtheid van die inligting te bevestig. Na aanduiding van die primêre ondersoek is daar vasgestel dat die bewerings wel meriete dra en die stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie, kapt. Susan Botha, het my genader om die ondersoek te lei," aldus Spangenberg.
Spangenberg het die ondersoek behartig waar daar op 7 Augustus 2016 dwelms vanaf Gelembe se woning geleë in Vader Hendrystraat, Albertinia, aangekoop is. Gelembe is in Desember 2016 gearresteer en sy borgtogaansoek is deur landdros Oosthuizen van die hand gewys. "Hy het nege maande in aanhouding gebly, hangende sy verhoor."
Volgens Spangenberg is daar op Donderdag 24 Augustus aansoek deur die staatsaanklaer, adv. Herman Steyn, gebring om die woning vanwaar die aktiwiteite vanaf gespruit het, verbeurd te verklaar.
Teen spertyd kon nie vasgestel word tot wanneer die saak uitgestel is nie.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'