RIVERSDAL NUUS - Ná honderde uitsonderlike inskrywings van regoor die land is die top-6-finaliste vir Die GROOT Ontbyt Jong Nuusleser-kompetisie met trots aangekondig en Nia Janse van Rensburg van Laerskool Volschenk en trotse Voortrekker is as een van hulle gekies.
Die talentvolle Nia Janse van Rensburg (10) moes 'n een minuut video van haarself opneem waarin sy 'n nuusbulletin lees - met ten minste een relevante storie, een kreatiewe storie en afsluit met:
"Ek is Nia Janse van Rensburg. Bly ingeskakel vir jou volgende nuusbulletin op Die GROOT Ontbyt."
Sy het haar inskrywing opgelaai via Die GROOT Ontbyt se Facebook-blad, en nou is sy op pad na nasionale roem.
Die wenner word gekies deur 'n bekende paneel en sal die nuus regstreeks op televisie lees, 'n PNA-geskenkpak ontvang en met die titel, Jong Nuusleser van die Jaar, wegstap.
Organiseerders sê die keuse was uiters moeilik vanweë die hoë gehalte inskrywings.
Suid-Kaap Forum se lesers kan hul oë op die skerm hou - dalk is dit Nia wat volgende die nuus lees!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’