STILBAAI NUUS - Suid-Kaap Forum het in die uitgawe van Vrydag 9 Mei berig dat Nedbank in Stilbaai sy deure op 29 Mei sluit.
David Schwegmann, hoofuitvoerende beampte van Nedbank se banktaknetwerk in Suid-Afrika, het daarna vir Suid-Kaap Forum die situasie as volg verduidelik:
Nedbank het die tak in 2003 in Stilbaai gevestig, maar oor die jare het hulle 'n beduidende verskil in hoe kliënte transaksies doen en skakel met die bank waargeneem, hoofsaaklik gedryf deur die skuif na die digitale opsies.
Dit het 'n duidelike afname van besoeke aan die bank meegebring, wat 'n aanduiding was dat Stilbaai digitaal gereed is.
Kliënte wat nog steeds in 'n bank wil wees kan Riversdal se tak besoek, maar Nedbank gaan 'n veilige digitale portaal skep waar kliënte kontant sal kan trek en inbetaal asook ander OTM-transaksies kan doen.
In hierdie fasiliteit sal ook 'n sluitkas/kluis wees waar kliënte hulle bankkaarte ontvang, maar hulle sal nog steeds die opsie hê om hulle kaarte by hulle te laat aflewer.
Kliënte word aangemoedig om gebruik te maak van die OTM, Nedbank Money-toepassing, aanlynbankdienste en die kontak-sentrum.
Dit is nog nie duidelik waar die perseel met die digitale portaal gaan wees nie, maar Nedbank is hard aan die woel om dit in plek te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’