RIVERSDAL NUUS - Die nasionale 1 200 m-kampioen, Eugene Saayman (o. 11) van Voorwaarts Primêr, het onlangs ’n welkome borgskap vir drafskoene ontvang - ’n ondersteuning wat sy sportloopbaan verder vlerke gee.
Die borgskap het tot stand gekom nadat ao. Hans Busch, self ’n voormalige landloopkampioen en verteenwoordiger van sy weermagbataljon in 1988, ’n beroep op plaaslike besigheidsman, Jacques Theart, gedoen het om dié belowende jong atleet te ondersteun.
Op Dinsdag 29 Julie het Saayman, vergesel deur sy afrigter Basil Abelse, by ’n bekende winkel in Riversdal saam met Theart ontmoet om sy nuwe drafskoene aan te skaf.
Die jong atleet het self die kleur en tipe skoene gekies, en met ’n breë glimlag sy dank teenoor Theart uitgespreek.
Afrigter Abelse het sy trots uitgespreek oor Saayman se prestasies en waardering teenoor beide Theart en ao. Busch uitgespreek vir hul ondersteuning.
“Gaan maak ons trots in dit waarin jy uitblink,” was Busch se bemoedigende woorde aan die talentvolle jong atleet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’