STILBAAI NUUS - Die eindstryd van Laerskool Bertie Barnard se PRET-netbaltoernooi het Woensdagaand, 4 Maart, vir opwindende netbal gesorg.
Die vier spanne wat die afgelope paar weke getrou elke Woensdagaand die netbalbaan aan die brand gespeel het, kan met gemak 'n span of twee in die Eden-netballiga inskryf.
Friena Müller, organiseerder van die toernooi, het hier 'n wenresep beet en hopelik gaan daar nog meer spanne in die volgende toernooi teen die einde van die jaar deelneem.
Johan Uys, plaaslike fisioterapeut, het die spanne elke Woensdagaand behoorlik opgewarm, terwyl die twee skeidsregters, Johanna Marais en Chantal van der Merwe, gesorg het dat alles vlot op die baan verloop.
In Woensdagaand se eerste wedstryd het Game of Throws en Thunder Sisters vir die derde en vierde plek meegeding. Game of Throws het hul beste vir laaste gelos en met hulle eerste oorwinning van die seisoen vir Thunder Sisters met 11 - 2 geklop om die derde plek te verower.
In die hoofwedstryd moes Fireballs elke truuk in die boek uithaal om 4 en Vlam met 15 - 12 te klop. Tot aan die einde was dit nog enigiemand se wedstryd, maar Fireballs het die hele toernooi baie goeie netbal gespeel en hulle is dus waardige wenners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’