Video
RIVERSDAL NUUS - Daar's nie ’n dwelm wat hy nie gebruik het nie. Tik, kokaïen, Mandrax, noem maar op. Vir 25 jaar lank.
Maar dit het al begin met alkoholverslawing wat uiteindelik in dwelmmisbruik oorgegaan het.
Maar nou is hy al vyf jaar skoon, vertel die 48-jarige Kapenaar Denver van der Bergh, wat Riversdal vanoggend om 12:00 binnegedraf het op sy epiese draftog van 1 558 km na Pietermaritzburg.
Hy noem dit sy Serenity Run en die doel daarvan is om hoop te skep by ander mense wat deur soortgelyke uitdagings geteister word.
“Ek het ’n groot fout as ’n jongman begaan en totaal aan alkohol en dwelms verslaaf geraak. Maar iemand het my ’n kans gegee en nou wil ek iets teruggee en ander help wat met soortgelyke probleme worstel.”
“Die geld wat met die Serenity Run ingesamel word, gaan hy gebruik om behoeftige mense, wat met verslawing sukkel, vir rehabilitasie na ’n geregistreerde plek soos Ramot in Parow, Kaapstad, te stuur.”
Dié rehabilitasie of professionele hulp is duur en baie mense kan dit eenvoudig nie bekostig nie, vertel Denver.
“Ek is ’n bewys dat alles moontlik is as jy jou aandag daarop toespits. En dis wel moontlik om van verslawing genees te word.”
Vir 35 dae gaan Denver elke dag ’n marathon aflê voordat hy in Pietermaritzburg aankom. Sy volgende stop is Albertinia en dan Mosselbaai.
Hy beoog om gemiddeld 48 km elke dag af te lê.
Hy word ondersteun deur sy broer en Reben Piet wat hom vir ondersteuning per fiets volg.
Video: Ben Snyman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’