HEIDELBERG NUUS - 'n Vrou is Donderdagaand 24 Mei noodlottig beseer nadat die motor waarin sy 'n passasier was, in 'n botsing reg van voor op die N2, net voor Karringmelksrivier, rigting Swellendam betrokke was.
Debbie Krotz (38) van Atlantis het later in die hospitaal op Swellendam aan kopbeserings beswyk.
Sy was saam met haar man, Isak, en 'n niggie op pad na 'n familielid se begrafnis op Wittedrif net buite Plettenbergbaai. Die begrafnis was Saterdag.
Die Krotz-egpaar was om ongeveer 23:30 in hul VW Citi Golf sowat 20 km voor Heidelberg toe 'n groen Chevrolet-bakkie met twee insittendes na bewering 'n trok op die sperstreep verbygesteek en hulle van voor getref het.
Krotz, wat bestuur het en sy passasier is na behandeling by die hospitaal ontslaan. Dit is nie bekend of die ander twee enige beserings opgedoen het nie.
Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'