Gallery
RIVERSDAL NUUS - 'n Droombegin vir die eerste DROOM-myl wat verlede Saterdag in Riversdal aangebied is. Dit was die oorweldigende reaksie van die deelnemers, toeskouers en natuurlik die organiseerders.
Inwoners van die dorp het in hul tientalle opgedaag om aan die mylbyeenkoms deel te neem.
Mense in rystoele, goed veertig van hulle, werkers van besighede in die dorp en veral, verblydend, leerders in herkenbare skooldrag wat entoesiasties aan die pret en plesier deelgeneem het.
'n Heerlike karnavalatmosfeer het vooraf geheers met die rook van braaiwors en vrolike musiek wat die lug gevul het. Oral het groepies mense rondgestaan in afwagting op daai eerste skoot om te klap wat die begin van dié geskiedkundige gebeurtenis sou inlui.
Daar was vooraf 'n vae bekommernis dat Riversdallers traag sou wees om die DROOM-myl entoesiasties en in hordes te ondersteun. "Die opkoms het ons stoutste verwagtinge oortref," het Chris Veldsman, uitvoerende bestuurder van DROOM, aan Suid-Kaap Forum gesê.
FOTOGALERY: Riversdal se DROOM-myl gaan nog in 'n grote ontwikkel
"Ons is in die wolke oor die ongelooflike ondersteuning van Riversdallers van alle ouderdomme en kleure en geure.
"Ek moet my DROOM-werkers bedank vir die harde werk wat hulle ingesit het. Hierdie was egter 'n grootse spanpoging en tot die kerke het 'n groot rol gespeel om mense te motiveer om deel te neem. Ek dink ons het met 'n projek begin wat net kan aanhou groei in statuur en kan ontwikkel tot 'n groot aantrekkingskrag wat buitebesoekers sal lok.
"Benewens die Riversdal-skou het ons nou nog 'n projek waarop die dorp voorwaar trots kan wees. Ek wil elke deelnemer en helper 'n klop op die skouer gee vir hul fantastiese ondersteuning. Aanstaande jaar is ons terug met nog 'n groter en beter DROOM-myl."
Die twee vroue het hulself gate uit geniet soos die breë glimlagte op hul gesigte duidelik wys.
Verskeie inwoners het in hul rolstoele aan die mylbyeenkoms deelgeneem.
Die drie kon nie die versoeking weerstaan om mooi in rooi getooi deel te neem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’