RIVERSDAL NUUS – Die Hessequa-munisipaliteit bied nou ‘n aantal inligtingsessies in die streek se dorpe aan om inwoners in te lig oor vanjaar se konsepbegroting – en hóé dit hulle raak.
Dorpenaars stel duidelik nie juis daarin belang nie en baie min mense het eergisteraand by die Thusong-sentrum in Riversdal opgedaag om ‘n bydrae tot die verbetering en opheffing van die dorp te lewer nie.
Tóg kla, kreun en neul hulle heeltyd om braaivleisvure, in kuierplekke en, veral, op sosiale media, oor die dorp se sogenaamde wanbestuur en verval.
Insae tot die munisipaliteit se jaarverslag (2022/2023) en die voorgestelde 2024-begroting werp egter lig op talle wanopvattings.
Gisteraand (10 April) het inwoners die geleentheid gehad om hul griewe te lug en bekommernisse te opper.
Die gemeenskap het daardie geleentheid deur hul vingers laat glip. Daar was slegs een wit mens wat twee vrae (oor elektrisiteit) gestel het. Die ander vrae is deur bruin veteraan-inwoners gestel - wat al tien jaar lank oor dieselfde probleem (‘n sloot en drein naby die treinspoor wat steeds tydens gure weer oorstroom, muskiete en ander peste lok en veiligheid bedreig) navraag doen.
Hy wou weet waarom Grant Riddles, die uitvoerende burgemeester, nog nie ingegryp het nie.
Riddles het opgemerk dat hy nog net sewe jaar op die dorp is en nie van daardie probleem bewus is nie. Gelukkig was daar ook ‘n amptenaar wat daarmee bemoei is. Daar en dan is besluit dat ‘n taakspan die gebied sal besoek om ‘n oplossing vir die probleem te vind; al is dit tien jaar later.
Dit is egter die doel van dié inligtingsessies. Hier word amptenare in die openbaar deur ooggetuies verantwoordelik en aanspreeklik gehou om daadwerklik op te tree en terugvoering oor die uitkoms te gee.
Vanjaar se begroting is - te midde van ekonomiese uitdagings, werkloosheid en ‘n behuisingsagterstand - op verligting van armoede geskoei.
Tog het niemand daaroor vrae gevra nie…
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’