RIVERSDAL NUUS - Inwoners van Riversdal het onlangs hul misnoeë uitgespreek oor die toestand van die munisipale toilette by die dorp se Markplein, en die saak onder die aandag van Suid-Kaap Forum gebring.
Inwoners sê die openbare toiletgeriewe is in 'n uiters haglike toestand.
Die dorp ontvang weekliks talle besoekers van oornaggaste tot toeriste wat deurreis - en daar is kommer dat die slegte toestand van die geriewe 'n negatiewe beeld van die dorp kan skep.
Ná 'n ondersoek deur Suid-Kaap Forum is vasgestel dat die toilette ernstig gevandaliseer is.
Foto's wat tydens die ondersoek geneem is, toon dat deure uit hul rame gebreek is, urinebakke uit mure geruk is, toiletdeksels weg is en krane stukkend is.
Verder is daar 'n sterk urienereuk rondom die gebou, sowel as sigbare tekens van ontlasting.
Gereelde gebruikers van die geriewe, Catherine van den Berg en Elsie Booysen, het aan die koerant gesê dat die toestand van die toilette al maande lank onveranderd is.
Hulle wys vinger na sogenaamde bosslapers wat na bewering snags die toilette gebruik as slaapplek en in die proses verdere skade aanrig.
"Hulle is ook verantwoordelik vir die gemors wat buite die geboue aangaan," het die vroue gesê.
Op navraag het Hessequa-munisipaliteit se mediabeampte, Didi Budricks, bevestig dat vandalisme aan munisipale infrastruktuur 'n aanhoudende probleem is.
"Wanneer gevalle aangemeld of waargeneem word, word waar moontlik, herstelwerk gedoen en wend die munisipaliteit pogings aan om die eiendom te verbeter en te beveilig.
Tans is 'n kontrakteur besig om nuwe veiligheidshekke by die toilette op die plein te installeer," het sy gesê.
Sy het ook 'n beroep op die publiek gedoen om enige voorvalle van vandalisme by die munisipale kantore aan te meld.
Suid-Kaap Forum het weer gaan inloer en kan bevestig dat die installasie van veiligheidshekke wel aan die gang is.
Daar word gehoop dat hierdie maatreël ongewenste besoekers snags sal verhoed om die gebou te betree en verdere skade aanrig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’