RIVERSDAL NUUS - 'n Gesamentlike padblokkade met Riversdal-polisie, Hessequa-munisipale wetstoepassing, asook munisipale verkeer- en spoeddiensverskaffer Syntell is op Donderdag, 5 Augustus vanaf 10:00 tot 13:00 op die N2 by die dorp se hoofingang gehou.
Voertuie is afgetrek om motoriste se lisensies na te gaan, te kyk of die voertuig padwaardig is en ook of dit dalk 'n gesteelde voertuig is.
Dié inligting kon sommer vinnig in die mobiele eenheid nagegaan word. Motoriste wat uitstaande boetes of lasbriewe vir verkeersoortredings teen hulle het, kon dit daar en dan vereffen, omdat kaartfasiliteite ook beskikbaar was.
"By hierdie geleentheid was drie dagvaardings vir verskillende verkeersoortredings uitgereik en 10 Artikel 54 dagvaardings gedien vir vorige oortredings in terme van Artikel 341.
"'n Bedrag van R14 050 is op die toneel gevorder," het Didi Budricks, munisipale woordvoerder gesê.
Heelwat motoriste moes verlede week hul sakke skud om uitstaande boetes te betaal. Foto: Henry Saayman
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'