Update
MOSSELBAAI NUUS - Toe hulle sien die vlamme kom oor die koppe het Tarien Strauss en haar gesin besluit om maar eerder solank hul woning in Island View, Mosselbaai te ontruim te midde van ’n brand in die area.
Inwoners van Island View, Vakansieplaas, en Aalwyndal is ontruim ná ’n brand vroeër vandag, Dinsdag, 6 Januarie, in die area begin het.
Strauss, ook die adjunkhoof van Diaz Primêre Skool, sê sy, haar man, hulle twee dogters en hulle hond, Sandy, het rondom 18:30 hul huis in Steinbergstraat ontruim, voor die situasie sy klimaks bereik het.
“Die rook het erg en dig geraak en ons het gesukkel om asem te haal. Soos ons gery het het ons vriende gebel en gesê ons ry en aanbeveel hulle moet dieselfde doen.
“Dit het gevoel soos sekondes, en toe het dit ge-eskaleer.”
Gevra wat mens saam met jou neem vir ’n ontruiming, het Strauss gesê hulle het “die kinders gegryp, hond gegryp, handsak gegryp” en toe is hulle op pad.
Hulle het by vriende in Bayview ’n tydelike heenkome gevind.
Strauss sê sy moet byvoeg hoe oorweldigend dit is om te sien hoe mense uitreik in hierdie tyd. Sy sê die gemeenskap omarm almal wat hierdeur geraak word en hulle is self baie dankbaar daarvoor.
Brandbestryding is aktief besig is verskeie areas. Volgens die Mosselbaai-munisipaliteit se nuutste opdatering om 20:05 maak sterk winde en beperkte toegang tot sekere areas die brandbestryding geweldig moeilik. Verskeie strukture en voertuie is aan die brand; getalle is nog nie bevestig nie.
Verskeie hulpbronne vanuit die munisipaliteit is geaktiveer en Hessequa-munisipaliteit het ook intussen kom handbysit.
Die munisipaliteit het gevra dat enige skenkings nie na die brandbestrydingtonele gebring word nie, maar eerder by die Mosselbaai-brandweer, op die hoek van Schoemanstraat en Louis Fourieweg, afgegee word.
Slegs geakkrediteerde vrywilligers mag brandbestrydingsareas betree.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’