HEIDELBERG NUUS - Ondanks 'n versekering deur Mondli Gungubele, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, dat alle begunstigdes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) nou toegang tot hul maatskaplike toelaes het, is daar steeds mense wat geen betaling ontvang het nie.
Inwoners in Hessequa loop ook deur. Uit Heidelberg het 'n erg ontevrede inwoner aan Suid-Kaap Forum vertel dat daar mense in die dorp is wat nog steeds op hul R350-toelaes wag.
"Sassa het, soos verlede maand, weer 'n verskoning. Maar daar is steeds niks geld by Postbank, USave of Pick n Pay vir ons nie. Ons dring nou daarop aan om by Sassa te hoor wat nou weer die probleem is, maar hulle kan nie verduidelik nie."
Nikki Mbengashe, uitvoerende hoof van Postbank, het onlangs aan die parlementêre portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, ook die versekering gegee dat probleme met uitbetalings iets van die verlede is en dat almal se geld in hul rekeninge oorbetaal is.
Meer as 600 000 begunstigdes, meesal bejaardes, sukkel sedert 5 September om toegang tot hul maandelikse toelaes te verkry. Die probleem lê glo by tegniese probleme wat met Postbank se IT-stelsel ondervind word.
Die lompe hantering van die debakel veroorsaak dat duisende Suid-Afrikaners hul vertroue in Sassa verloor het.
Dié departement is al vir jare in 'n wolk van omstredenheid gedompel met sy topbestuur wat geen vertroue inboesem nie en van die een krisis na die ander steier. Intussen is dit die kwesbaarstes onder ons wat onder die uitbetalingskrisis moet deurloop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’