STILBAAI NUUS - Nasionale Mariene Maand is van 1 tot 31 Oktober en vanjaar was die Mariene Week van 7 tot 11 Oktober.
Die 2025 tema is, Ons Oseaan, Ons Verpligting, Ons Geleentheid.
Tuinroete-distriksmunisipaliteit en Hesse-qua-munisipaliteit het in samewerking met die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning en Melkhout-fontein Primêr, Donderdag 23 Oktober, 'n skoonmaakaksie by Preekstoel-strand by Stilbaai van stapel gestuur.
Dertig leerders en vier onderwysers het by 10 ander volwassenes aangesluit om rommel op te tel.
Raadslid Jobieth Hoogbaard, portfolio-voorsitter van gemeenskapsdienste by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het in sy verwelkoming gesê dat Mariene Week nie net gaan oor die viering van die kuslyne nie, maar om verantwoordelikheid te vat daarvoor.
Elke stukkie rommel wat opgetel word is 'n klein maar kragtige taak. 'n Bottelproppie, plastiekstrooitjie en 'n stuk vislyn mag bitter min klink, maar vir 'n seeskilpad, seevoël of 'n vis kan dit die verskil tussen lewe of dood wees.
Deur skoon te maak voorkom jy dat afval deel raak van die mariene voedselketting en beskerm jy die biodiversiteit wat die oseane lewendig hou.
Die see is gepak met lewe en is uiters belangrik vir die gemeenskap, van 'n biodiversiteit en voedselsekerheid perspektief asook as deel van die kulturele en natuurlike bewaring.
Die World Wildlife Fund het in 'n verslag genoem dat Suid-Afrika se kuswater duisende werksgeleenthede bied en bring miljarde rande na die nasionale ekonomie.
Visserye alleen sorg jaarliks vir sowat 600 000 ton vis en verskaf werk aan omtrent 127 000 mense.
Dr. Nina Viljoen, hoof van omgewingsake by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het gesê dat die wonderlike oseaan gevier moet word, want dit is die enigste een wat ons het.
Vat jou familie en vriende vir 'n strand- of rivierskoonmaak en lees bietjie meer van die pragtige kuslyn.
Die samewerking tussen die munisipaliteit, distriksmunisipaliteit, Wes-Kaapse regering en ander staatsinstellings is 'n goeie voorbeeld van hoe die staatsmasjinerie kan saamwerk en 'n verskil maak om sukses van omgewingsprojekte binne gemeenskappe te verseker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
 
                 
                     
                     
                    
                    
                    
                    
                    
                 
                             
                         
                         
                 
                 
                 
                 
             
                 
                                     
                                     
                                     
                                     
                                 
                                         
                                         
                                         
                                         
                                     
                                         
                                     
                                     
                 
                         
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                