STILBAAI NUUS - Melkhoutfontein Primêr het Dinsdagaand, 14 November erkenning gegee aan hul uitblinkers op akademiese, sport- en kultuurgebied.
Daar was nie plek vir 'n muis in Melkies se gemeenskapsaal toe Graeme Cuttings die verrigtinge geopen het nie.
Vader Keith Muller van die Anglikaanse Kerk het uit die Woord gesê dat hierdie jong boompies voor hom in die saal sal groei en eendag vrugte dra as gevolg van die harde werk wat hulle nou insit.
Hy het ook beklemtoon dat die Here vir jou die krag gee om te kan groei en presteer.
Die skoolhoof, Graeme Cuttings, het enkele punte uit sy jaarverslag aangehaal en eerstens het hy die skool, ouers en gemeenskap bedank vir die gul ontvangs wat hy gekry het toe hy op 1 Julie amptelik as skoolhoof oorgeneem het.
Hoogtepunte vir hom was die leerders se prestasies regdeur die jaar op akademiese, sport- en kultuurgebied.
'n Droom word bewaarheid met die pragtige skoolsaal wat in 2023 gebou is en nou voltooiing nader. Die amptelike opening van die saal word beplan vir vroeg volgende jaar.
Hy vra dat ouers betrokke raak by skoolaangeleenthede sodat hulle finansies kan verbeter en hulle in staat sal wees om meer onderwysers aan te stel. Dit sal kleiner klasse te weeg bring en sal onderrig verbeter. Hulle visie is tog om die beste moontlike onderrig aan leerders te verskaf.
Problematies is die aantal leerders wat voortydig die skool verlaat en hulle gaan poog om dit te verander. Dit is die enigste manier vir hierdie leerders om vir hulle 'n beter toekoms te bou.
Raadslid Renee Davids het as gasspreker opgetree en hy het onder andere die leerders aangemoedig om drome te droom, maar hulle moet werk om daardie drome waar te maak. Die skool het aan verskeie eisteddfods deelgeneem en baie goed presteer.
Die duxleerling vir 2023 is Washawn Geland, terwyl Charlize Manho aangewys is as die beste skaakspeler.
Die sportman van die jaar is Lee-Olin September wat die Wes-Kaap verteenwoordig het in die nasionale landloopkampioenskappe en die sportvrou van die jaar is Junescé Michaels.
Die beste netbalspeler in die skool is Teané Abrahams en die beste rugbyspeler is Braeden Michaels.
Met die toegewyde onderwyskorps en prestasies soos hierdie is dit duidelik dat Melkhoutfontein Primêr van krag tot krag gaan en met die ouers se ondersteuning kan hy nog verder uitstyg.
Bradley Heunis (rugbyafrigter), Braeden Michaels (beste rugbyspeler), en Graeme Cuttings (skoolhoof).
Tanya Hurling (netbalafrigter), Teané Abrahams (beste netbalspeler) en Graeme Cuttings (skoolhoof).
Luwellyn Adams (onderwyser), Charlize Manho (beste skaakspeler) en Graeme Cuttings (skoolhoof).LINKS: Tanya Hurling (netbalafrigter), Teané Abrahams (beste netbalspeler) en Graeme Cuttings (skoolhoof).
Lizelle Cuttings, Lee-Olin September (sportman van die jaar), Graeme Cuttings (skoolhoof), Junescé Michaels (sportvrou van die jaar) en Tommie Booysen (voorsitter van die beheerraad).
Reginald Baker (onderhoof), Lee-Olin September (beste algehele atleet) en Graeme Cuttings (skoolhoof).
Melkies se skoolkoor sing volkslied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’