RIVERSDAL NUUS - Meer as 40 honde en katte was reeds teen 10:00 vanoggend gesteriliseer toe Community Animal Rescue Society (Cars), in samewerking met VetSol, hul massasterilisasieprojek by Riverville-stadion in Riversdal afgeskop het.
Die veldtog van twee dae, wat vandag 20 en Donderdag 21 Mei plaasgevind, het ten doel om die groeiende probleem van ongewenste diere in die gebied aan te spreek en verantwoordelike troeteldiereienaarskap te bevorder.
“Ons verwag om meer as 100 diere oor die twee dae te steriliseer,” het Sandra Lotz van Cars gesê.
Sy het bygevoeg dat diere-eienaars hul diere vooraf moet registreer voordat die prosedure gedoen kan word.
Cars is ’n geregistreerde, vrywilliger-gedrewe niewinsgewende organisasie en ook ’n geregistreerde Openbare Weldoenersorganisasie (OWO) wat reeds waardevolle werk in Riversdal en omliggende dorpe verrig.
Benewens die herplasing van diere, help die organisasie ook met sterilisasies en inentings in minderbevoorregte gemeenskappe in Riversdal, Heidelberg, Stilbaai, Albertinia, Gouritsmond en Slangrivier.
Volgens Lotz volg die aannemingsproses ’n aansoekvorm, huisbesoek en aannemingsfooi, wat die eerste inenting en sterilisasie insluit.
Cars maak staat op gemeenskapsbetrokkenheid en skenkings om hul werk voort te sit, en kan ook sertifikate vir belastingdoeleindes aan skenkers uitreik.
Vir meer inligting kan Sandra Lotz by 082 962 1831 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’