HEIDELBERG NUUS - Kairos Senior Sekondêr se 78 matrikulante het Vrydag 11 Oktober hul laaste amptelike skooldag bygewoon waartydens hulle ook hul eksamennommers in ontvangs geneem het.
Die verrigtinge in die skoolsaal is deur al die leerders van die skool asook ouers en familie van vanjaar se gr. 12-leerders bygewoon.
Die aanwesiges is kortliks deur drie ouers, Daniel Esau, Margrieta Basson-Oktober en Alex Williams, asook Trevor Februarie, prinsipaal, asook verskeie matrikulante toegespreek en aangemoedig om hulle toe te spits op die belangrike taak wat hul toekoms sal bepaal.
Al die matrikulante het ook ’n geskenkpakkie met studiemateriaal ontvang wat deur twee opvoeders, Corita Vorster en Juandré September, oorhandig is.
Dit was ook duidelik dat baie van die leerders as talentvolle kunstenaars dalk in die toekoms hul merk met verfkwaste en penne of potlode sal kan maak as daar na die tekeninge op hul hemde gekyk word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’