STILBAAI NUUS - Vir die derde agtereenvolgende jaar is die 40-jarige Marijké Kleynhans van Stilbaai gekroon as die beste witblitsstoker in Suid-Afrika.
In die proses het sy afgereken met gerekende hardebaarde wat al vir baie jare witblits en mampoer stook.
Marijké is die enigste vrou wat in die meer as 40 jaar wat die kompetisie aangebied word, as kampioen gekroon is.
Sy het onlangs met nie minder as ses toekennings by die 42ste Mampoer-stokersgilde se nasionale kampioenskappe, wat by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasgevind het, weggestap.
- Sy was klaswenner vir haar witblits met dop.
- Die beste ingelegde produk was haar lemoenskywe met nartjie-mampoer.
- Die beste roomlikeur prys vir haar koffie-karamel likeur.
- Sy het die beste gemmerlikeur ingeskryf.
- Sy is aangewys as die algehele witblitskampioen.
Marijké het ook die meeste klaswenners gehad.
Om alles te kroon is haar regterhand, Hanna Johnson, gekroon as die beste hulpstoker in die land.
Sy het ook 'n paar ander produkte ingeskryf waarvoor sy dubbelgoud gewen het, maar net-net nie die beste was nie.
Vir 'n vrou wat 11 jaar gelede, as 'n stokperdjie in 'n klein buitekamertjie op die plaas begin witblits stook het, het sy werklik grense verskuif en gewys dat die bedryf plek het vir die evasgeslag.
Haar man, Rudie, en sy oom Jakes Ellis het die stooksaadjie by haar geplant en in 2018 het sy 'n week lange kursus in Centurion by die bekende stoker, Hendré Barnard, bygewoon en die res is geskiedenis.
Marijké gebruik net die beste vrugte en sy ry Ladismith toe om haar druiwe en perskes aan te koop.
Haar droom is nog altyd om mense meer te leer van witblits en mampoer.
Mense het 'n wanindruk daarvan en glo dat slegs strawwe drinkers dit drink.
Vandag beskik sy oor 'n ruim stokery met 'n ordentlike proelokaal en om dit af te rond 'n pragtige venue waar hulle van troues en verjaarsdagpartytjies tot optredes van bekende kunstenaars hanteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’