Update
HEIDELBERG NUUS - Hordes inwoners - ook vanuit Slangrivier - en verbygangers het Dinsdagoggend sekerlik gedink Vader Krismis het vroeg kom kuier toe 'n trok vol bier die pad verlaat en omgeslaan het.
Die ongeluk het so teen 06:05, ongeveer 25 km buite die dorp, in die rigting van Swellendam plaasgevind.
Verbygaande motoriste en talle inwoners het binne enkele minute op die toneel toegesak en hul bakkies en motors vol kiste bier gelaai en weggery.
Van die inwoners van beide Heidelberg en Slangrivier het gesorg dat hulle twee of drie keer hul vroeë Kersgeskenke gaan oplaai het.
Volgens ao. Monique Kellies, Suurbraak-mediabeampte, het hulle die oproep van die ongeluk net na sesuur die oggend gekry en onmiddellik na die toneel gehaas. Sy sê die trokbestuurder was ongedeerd, maar die passasier het wel geringe beserings opgedoen en is op die toneel behandel.
Kellies sê dat baie mense bier weggedra het. "Daar is nog geen klagte aanhangig gemaak nie, maar as die eienaar van die trok wel een indien sal dit ondersoek word."
Intussen word daar wyd op sosiale media bespiegel en gespog oor die vroeë Kersfeesgeskenke wat groot vreugde aan 'n klompie inwoners besorg het.
Hierdie man het seker gemaak dat hy sy biervoorraad goed aanvul voor die feesseisoen aanbreek.
Pure plesier vir die eienaar wat met 'n bakkievol bier mee kon wegry. En boonop nog pasella ook. Kersfees het beslis vroeg sy opwagting gemaak..
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'