HEIDELBERG NUUS - ’n Plaaslike man is agter slot en grendel nadat hy Saterdagoggend, 21 Oktober, met ‘n aluminium trapleer in Eksteenstraat deur 'n op en wakker polisieman betrap is.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, was die lid op patrollie toe hy die verdagte met die leer sien loop het. By nadere ondersoek het hy opgelet dat die verdagte agterdogtig optree.
Ná 'n kort ondervraging het hy agtergekom dat die verdagte nie bevredigend kon antwoord oor die eienaarskap van die leer nie en het hy die verdagte in hegtenis geneem vir besit van gesteelde eiendom.
Die verdagte, Stanfield Adams (33), het Maandag 23 Oktober vlugtig op aanklag van diefstal en besit van gesteelde eiendom in die hof verskyn.
Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel. Hy bly in aanhouding by die Buffeljagsrivier-gevangenis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’