RIVERSDAL NUUS - Die lente wink en Saterdag vier dié dorp fees! Boonop gaan die bekroonde akteur, Christo Davids, ‘n Hessequa-boorling, ook daar wees.
Hy het veral bekendheid om sy rol as die geliefde karakter, Errol, in SABC2 se voormailge sepie 7de Laan verwerf.
Die kultuur van dorpsamesyn word op 31 Augustus op die markplein - waar die Makadas-treinenjin op ‘n ysterspoor na nêrens in stom stoom-herinnering tjoef-tjoef - herontdek.
Maar die mense hierby betrokke, hét rigting: ‘n terugkeer na ‘n trotse markpleintradisie.
Dit is ‘n herwinningkonsep ter bevordering van gemeenskapsofheffing deur Lenichia Willemse, die mediabeampte van Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit, se kantoor.
“Die projek is daarop gemik om ons gemeenskap te bemagtig deur mense die geleentheid te bied om hul eie besighede te begin en bestaande kleinsake te laat groei. Deur hierdie projek wil ons finansiële groei in ons eie gemeenskap bevorder, deur geleenthede te skep wat mense in staat stel om eienaarskap van hul eie sukses te neem. Ons wil die beskikbare hulpbronne optimaal gebruik om 'n sterk en volhoubare ekonomiese basis vir ons gemeenskap te bou.”
Sowat 25 van die streek se entrepeneurs bring hul vaardigheid mark toe. Jy kan jou hare laat sny, ‘n kunswerkie op jou gesig laat verf, naaldwerk laat doen en jouself met gesondheidroompies bederf. Van die streek se kunstenaars stel hul talent ten toon en bied praktiese, handgeskepte gebruiksprodukte aan. En die kokkedore en baktore bring vetkoeke, roosterkoeke, kerrie-en-rys, nóg soet- en soutgebak saam.
Die voor- en nagereg - en al die speserye tussenin - is die geliefde Hessequa-boorling Christo Davids wat tyd saam met sy aanhangers gaan deurbring.
‘n Aantal rymkletsers gaan musiek, woordgimnastiek en vermaak verskaf.
Jy kan ‘n doenige markvlooi wees en nuuskierig snuffel!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’