RIVERSDAL NUUS - Verskeie faktore het gedreig om die Makadas-kersmark op die plein te ontspoor, maar die lokomotief het danksy ‘n klompie dapper passasiers flink voortgestoom.
Dertig entrepreneurs was veronderstel om feesbetowering te skep, maar ‘n hele klomp het op die nippertjie onttrek en die aanbod was heelwat skraler as wat verwag was.
“Die doel van die Makadas-markprojek was van die begin af daarop gemik om ‘n platform vir ons plaaslike entrepreneurs te skep en inwoners die geleentheid te bied om in ‘n veilige, verligte ruimte net lekker saam te kon kuier, snuffel en inkopies doen,” sê Lenichia Willemse, die organiseerder.
Sy is egter effens teleurgestel in die uitkoms. “Almal kla altyd daar is nie geleenthede en aktiwiteite in die dorp nie. Ons het dit met dié markfees probeer bied, maar dit is nie benut nie. Ons sal ernstig moet besin oor die toekoms.”
Daar het wel vreugdevure gebrand en die geur van braaivleis wat oor die plein gehang het en DJ Ozzy se heerlike musiek en regstreekste uitsendings op die plaaslike aanlyn-radiostasie Hessequa FM het mense genooi en gelok om ‘n draai daar te gooi.
Die stalletjies wat wel opgerig is, het ‘n verskeidenheid produkte aangebied en die meeste verkopers is baie tevrede met die ondersteuning.
Handgemaakte en kunsvlytprodukte, geskenkpakke en tuisgebak is opgeraap. Van die bakkers en braaiers het die bederfbare produkte wat oorgebly het, aan behoeftiges uitgedeel.
Vir party mense was die Makadas-kersmag tóg ‘n fees!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’