STILBAAI NUUS - Die gerespekteerde en geliefde sakevrou en vriendin, Magda Niemand, het op 69-jarige ouderdom haar wedloop voltooi en is Saterdagaand, 26 Julie, by die huis oorlede.
Sy laat benewens haar man Leon, 'n seun Jaco Niemand en 'n dogter Marlene Stears agter.
Hierdie besonderse vrou het haar lewe lank in welsyn gewerk totdat sy in 2007 met kanker gediagnoseer is.
Die dokter het haar twee jaar gegee en sy het besluit om dit ten volle uit te leef.
Magda het uit haar werk bedank en haar pensioengeld gebruik om deur Europa te toer.
Die twee jaar het verbygegaan en sy het besef dat sy iets sal moet doen om 'n inkomste te verdien.
Haar droom was om 'n sekere koffiewinkel te besit, maar die koopsom was bokant haar vuurmaakplek.
Twee weke later het haar vorige werkgewer laat weet dat hulle 'n fout met haar pensioenuitbetaling gemaak het en die bedrag wat hulle haar skuld was presies wat sy nodig gehad het.
Die koffiewinkel was 'n reusesukses en na 'n toer deur Italië in 2015 het sy nog 'n koffiewinkel oorgeneem. Vir twee jaar het sy ook 'n wegneemete-plek gehad.
As gevolg van haar gesondheid moes sy later begin afskaal.
Sy moes drie keer per week vier ure op 'n nierdialisemasjien spandeer, maar Magda was altyd die positiwiteit vanself.
Sy het nooit gekla nie en altyd die glas halfvol gesien en nooit halfleeg nie.
Ten tyde van haar dood was Magda ook 'n direkteur van die Stilbaai-besigheidsforum, altyd gereed om te dien en om haar kennis en vernuf met ander te deel.
Die besigheidsforum beskryf haar as iemand wat nie net gelei het nie, maar sy het ook geïnspireer.
Haar nalatenskap sal nog lank in die besigheidsgemeenskap en die dorp gevoel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’