HESSEQUA NUUS - Die Hesseaqua-munisipaliteit het sy konsepbegroting vir 2024 ter tafel gelê.
Inwoners van dié streek word tot 16 April vanjaar bemagtig met inligtingsessies oor die inhoud van die voorgestelde tariefverhogings.
Die konsepbegroting is verlede maand deur die raad goedgekeur.
Inwoners van Stilbaai, Jongensfontein, Melkhoutfontein en Riversdal (wat Kwanokuthula insluit) het reeds dié uitreiksessies bygewoon, hul griewe gelug, hul bekommernisse geopper en met daardie deelname bemagtig inligting bekom.
Inwoners kry die geleentheid om openhartig met die raadslede te gesels.
Die uitvoerende burgemeester Grant Riddles, die adjunk-burgemeester Tinus van den Berg, die munisipale bestuurder Albert de Klerk, die hoof-finansiële bestuurder Gerard Goliath en die tegniese dienste-hoof Louw de Villiers is teenwoordig om antwoorde te verskaf.
Hulle word deur verskeie departementele direkteure, ander uitvoerende amptenare in spesialis-portefeuljes en die onderskeie dorpe se wyksraadslede ondersteun om besorgde inwoners se vrae te beantwoord.
Die volgende dorpe word tydens dié uitreiktoer besoek:
- Witsand: Maandag, 15 April om drieuur by die Witsand-gemeenskapsaal.
- Slangrivier: Maandag, 15 April om halfsewe by die Slangrivier-gemeenskapsaal.
- Gouritsmond: Dinsdag, 16 April om drieuur by die Gourtitsmond-gemeenskapsaal
- Albertinia: Dinsdag, 16 April om halfsewe by die Theronsville-gemeenskapsaal.
Daarna het inwoners nog tot 30 April die geleentheid om insette ter verbetering van die konsepbegroting te lewer, voordat die finale begroting einde Mei goedgekeur en bekend gemaak word.
Mense wat werklik in hul dorp se welstand belangstel, kan gerus die volledige jaarverslag (2022/2023) by hul naaste biblioteek gaan lees.
Dié insiggewende dokument van 166 bladsye weerspieël die finansiële jaar wat was en fokus op wat moontlik in 2024 vir die Hessequa-streek se inwoners voorlê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’