RIVERSDAL NUUS - Prof. Francois Durand, 'n dierkundige, paleontoloog en ekoloog van die Universiteit Johannesburg, is deur die Green Fingers-tuinbouklub van Riversdal genooi om 'n praatjie te gee oor klimaatsverandering en die impak daarvan.
Anzette Finnemore, 'n komiteelid, het die geleentheid geopen met die gesegde: "Ons erf nie die grond by ons voorouers nie, maar jy leen die grond by jou kinders." As elke persoon net een klein stap in die regte rigting neem, sal ons kan wen, het Finnemore gesê.
Prof. Durand het begin deur te verduidelik dat die verlede inligting gee oor die toekoms en indien ons verstaan hoe ons daar gekom het, kan ons verstaan wat vorentoe gaan of kan gebeur.
"Die vraag is, wat kon ons anders gedoen het om te keer dat ons die planeet vernietig en die antwoord is alles! Ons het alles verkeerd gedoen van die oomblik wat die eerste klip 2,5 miljoen jaar gelede skerpgemaak is. Kort daarna is vuur ontdek en elke voorwerp wat jy om jou sien word op een of ander manier met vuur gemaak. Dit het 1,8 miljoen jaar gelede begin. Indien ons wil oorleef moet ons ons hele manier van leef heroorweeg," het Durand beklemtoon.
Volgens Durand is hierdie die laaste hoofstuk van die geskiedenis van die mensdom. "Dis reeds te laat. Ons moes 40 jaar gelede al ons manier van doen verander het, maar ons het nie."
Studies toon dat ons tans 150 spesies per dag verloor en die probleem is dat elkeen van hierdie spesies bestaan omdat dit 'n ekologiese funksie het.
"Ongelukkig sal dit so aangaan en vererger oor die volgende paar jaar. Dit gaan veroorsaak dat ons by 'n ekologiese keerpunt kom waar die totale ineenstorting van ekologie gaan plaasvind, waarskynlik minder as agt jaar van nou af. Binne minder as 'n dekade gaan ons meer as 'n halfmiljoen spesies teen die huidige uitwissingstempo verloor."
Hy reken om klimaatsverandering te stop of die tempo daarvan te vertraag, moet die regering wette skep en afdwing, riglyne stel wat mensegedrag beheer en maatskappye stop wat skade aan die natuur veroorsaak. "Ons het die hele wêreld se samewerking nodig om dit te doen, maar ongelukkig is die kans daarvoor 0%."
Hoekom is daar 'n probleem?
Daar is agt miljard mense op aarde en dis hopeloos te veel. Daar moet op hierdie stadium minder as een miljard mense op aarde gewees het, maar oorbevolking het gebeur.
Wat het dit veroorsaak?
Die bestaan van die mens (homosapiens), 300 000 jaar gelede wat jagterversamelaars was. Die diere het nie saam met die mens ontwikkel nie omdat ons hulle begin uitwis het van groot na klein, met net steen en vuur. Jare terug is mammoet beenhutte gemaak. Duisende is doodgemaak en uitgewis vir hul kake wat groot genoeg was om die hut te bou, dis maar net een van baie.
Die mens het diere begin mak maak, waarvan die wolf die eerste dier was 20 000 jaar gelede. Hulle is gebruik as jag en sleehonde en nog later is ander diere soos bokke, skape en beeste ook mak gemaak.
Die mees ekologiese vernietigende menslike aktiwiteit ooit was toe die mens begin boer en die landskap verander het. Dít was eintlik onderliggend die rede vir oorbevolking.
"Kos is grootliks die rede vir oorbevolking. Selfs al kan ons al die ekostelsels op aarde in plase omskep, sal daar uiteindelik nie genoeg grond en water wees om in die mensdom se behoeftes te voldoen teen middel van hierdie eeu nie, en dit is oor 20-30 jaar van nou af. Die grootste oorwinning oor die natuur sal uiteindelik ook die mens se grootste fout wees," sê Durand.
Wat kry ons met klimaatsverandering?
Daar word stygende temperatuur veranderings in seisoene gesien, soveel so dat jy nie meer die reën kan voorspel nie as gevolg van yskappe wat smelt, verandering in seestrome, reënvalpatrone, storms, droogte en vloede. Habitat verlies, verlies van biodiversiteit, hongersnood en uitsterwing sal die gevolg hiervan wees. Jy kan sien hoe klimaatstoestande vererger het in die laaste paar dekades regoor die wêreld.
Die gemiddelde temperatuur van die planeet is besig om toe te neem en dit veroorsaak die uitdroging van die oppervlak van die aarde. Daarom is riviere die afgelope 20 jaar besig om op te droog.
Brande word ook nou algemeen as gevolg van verdroging, hitte en die opbou van biomassa. "As jy kyk na die Knysna- en die Australiese brande, was dit die perfekte storm wat net gewag het om te gebeur.
Studies wys die laaste 20 jaar dat hierdie storms wat die aarde tref, meer dikwels voorkom en algaande groter en sterker word.
Vars drinkwater word wêreldwyd al skaarser. Suid-Afrika is die land met die meeste koolstofuitskeidings in Afrika. "As ons al die ander lande se koolstof saamtel, is dit minder as wat Suid-Afrika uitskei."
Hierdie patroon dui daarop dat die gemiddelde temperatuur in Suid-Afrika vier tot ses grade hoër sal styg voor die einde van hierdie eeu, wat 'n ineenstorting van die ekologie sal veroorsaak. "Dit sal 'n vernietigende uitwerking op kos- en watersekerheid in Suid-Afrika hê, waarvan die Wes-Kaap die ergste geraak sal word."
Suid-Afrika is reeds onder geweldige druk omdat daar nie genoeg water vir alles is nie.
"Ons moet die manier hoe ons dink en alles as vanselfsprekend aanvaar, verander. Jy kan 'n beter verhouding met die natuur opbou deur jou eie groente te plant en eienaarskap te aanvaar vir jou deel wat jy doen aan die natuur," het hy afgesluit.
(Lees volgende week in die Forum oor sy praatjie met Riversdal se boere).
Komiteelede van die Green Fingers-tuinbouklub van Riversdal saam met prof. Francois Durand, van links: Annatjie Joubert, Elmarie Vosloo, Lynette Nainkin (voorsitter) en Anzette Finnemore (bemarking en kommunikasie). INLAS: Prof. Francois Durand. Foto's: Juan-Maré Conradie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’