HEIDELBERG NUUS - Piet Lotz is Saterdag 28 Maart weer as wenner van die Heidelberg Groot Pampoenfees gekroon nadat sy pampoen ’n indrukwekkende 1 221 kg op die skaal getrek het en die Suid-Afrikaanse rekord verbeter het.
Die gewilde jaarlikse fees het dié naweek duisende inwoners en besoekers na Heidelberg gelok, waar spanning hoog geloop het oor wie vanjaar die swaarste pampoen sou inweeg.
Lotz, wat verlede jaar ook die titel ingepalm het met ’n pampoen van 1 120 kg, het sy kroon suksesvol verdedig en sy eie prestasie selfs verbeter.
Die Heidelberg Groot Pampoenfees, wat sedert 2007 van ’n klein plaaslike byeenkoms tot ’n groot trekpleister op die Suid-Kaapse kalender gegroei het, het weer topkwekers en feesgangers van regoor die land gelok.
Die verrigtinge het reeds Donderdag 26 Maart met ’n gholfdag by die Heidelberg-gholfklub afgeskop, gevolg deur aandvermaak.
Vrydag se program het voortgesit met ’n lewendige nagmark, kosstalletjies, ’n biertuin en musiekoptredes deur gewilde kunstenaars.
Saterdag se hoogtepunt was die pampoenweeg, wat van 16:00 tot 18:30 plaasgevind het.
Feesgangers is ook deurentyd vermaak met musiek, kindervermaak en ’n verskeidenheid aktiwiteite vir die hele gesin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’